Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 30 September 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai 'n nuusbulletin uit elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)


STIL SLEUTEL
Die voorsitter van Streek 3 van die Internasionale Amateurradio-unie, Michael Owen, VK3KI, is op 22 September oorlede. Hy was 75 jaar oud. Owen, wat ook voorsitter van die Wireless Institute of Australia was, het gedien op verskeie komitees en was 'n lid van die IARU-waarnemerspan by verskeie Wêreld Radiokonferensies. Hy sal waarskynlik die beste onthou word vir sy werk op artikel 25 by WRC-03. Artikel 25 is 'n pakket van hersiening aan die internasionale Radio Regulasies wat spesifiek op die amateur- en amateursatellietdienste betrekking het.

Amateurradioverenigings regoor die wêreld het voordeel getrek uit Owen se entoesiasme en ervaring. Hy was sedert die 1960’s baie betrokke by die amateurradio-diens en het van 1989 tot 1999 as IARU vise-president gedien.

"Ek is baie hartseer om te hoor van Michael se skielike heengaan," het IARU President Tim Ellam, VE6SH, gesê. "Ek het net 'n paar dae gelede met hom gepraat, en hy was baie entoesiasties om die IARU Streek 3 konferensie in Ho Chi Min Stad binne ‘n paar weke te gaan lei. Michael was 'n goeie vriend en mentor vir baie van ons in die Internasionale amateurradio-unie. Sy regulasie-opstellingsvaardighede was puik en hoef vir niemand terug te staan nie. Sy vermoë om sy standpunt oor 'n aantal kwessies duidelik uit te druk, was van onskatbare hulp vir ons. Die IARU is baie dank aan hom verskuldig vir sy werk by WRCs en by baie plaaslike Asië-Stille Oseaan Telekommunikasie Vergaderings.

"Ek onthou ek was saam met hom by die ITU spesiale komitee-vergadering in 2002. Hy het my geleer om hoe om voorspraak te maak op internasionale vlak, iets wat my baie gehelp het toe ek as IARU beampte verkies is. Michael was ‘n briljante prokureur en goed bekend aan baie kollegas in sy beroep regoor die wêreld. Die IARU betuig simpatie aan sy familie, aan IARU Streek 3 en aan die WIA. Ek praat namens al my kollegas as ek sê hy sal baie gemis word."

"Een van die opdragte wat Michael by WARC-79 gekry het, was om ‘n resolusie op te trek om die amateur-satellietdiens vry te stel van die dienskoördinasieprosedures wat ons sou laat vasval het in eindelose papierwerk en groot koste. As ‘n prokureur was dit juis dié soort werk wat hy goed gedoen het. Sy werk het die toets van die tyd deurstaan en bly steeds van krag. Maar geen goeie daad bly ongestraf nie, so in 2003 is hy weer teruggebring na Genève as 'n lid van die IARU span wat artikel 25 moes herskryf. Artikel 25 bevat die reëls wat van toepassing is spesifiek op die amateur en amateursatellietdienste. Dit het geblyk meer ‘n diplomatieke oefening as tegniese opstelling te wees, maar Michael was opgewasse vir die taak.

Michael Owen was 'n strategiese denker. Hy kon die voorsien hoe besluite van vandag, die verre toekoms sou beïnvloed. Hy het ook verstaan dat as mens jou huiswerk doen, jy sukses sal hê.

Die WIA se vise-president Phil Wait, VK2ASD, aanvaar die rol van Voorsitter van die WIA. Wait is al ‘n WIA direkteur sedert 2003 en is in 2010 aangestel as vise-president van die WIA.

Die SARL betuig sy meegevoel aan Michael se familie en aan die WIA.

(POUSE)


IN DIE NUUS VANDAG:

Laaste RTA van 2012, in Kaapstad gehou.
Nuwe Hamnet-Webwerf
Amateurradio bly op die voorpunt van tegnologie
Jamboree-op-die-lug en CQ Hou Koers
Doktorsgrade in ingenieurswese vir twee amateurs

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.


LAASTE RTA VIR 2012, IN KAAPSTAD GEHOU

Meet as tagtig persone het die RTA in Kaapstad, bygewoon. 'n Volledige verslag oor die 2012 RTA’s in volgende week se SARL nuus ingesluit word.

Die SARL het reeds begin met die beplanning van die datums vir volgende jaar. Die voorgestelde datums is:
Durban RTA op15 Junie;
Port Elizabeth RTA op 27 Julie;
Gauteng RTA op 31 Augustus; en
Kaapstad RTA op 5 Oktober

Klubs word gevra om die datums te kontroleer vir moontlike botsings met ander gebeurtenisse. Voorstelle vir beprekingsonderwerpe word aangevra. Stuur kommentaar aan rta@sarl.org.za asseblief. Lewer ook kommentaar oor hoe u die 2012 RTA ervaar het.


NUWE HAMNET-WEBWERF

In die Oktober uitgawe van die Hamnetbulletin, wat vroeg hierdie week gepos sal word, stel Hamnet die stigting van ‘n eie webwerf bekend.

Die domein is al jare terug bespreek, maar Dawie Conrdie, ZS6DHC, het ingewillig om die aanvanklike werf bymekaar te bring en bekend te stel.

Die webwerf dek die gaping tussen die SARL-webwerf en die baie suksesvolle Facebookwerf wat baie belangstelling lok. Al die koppelings, insluitende buitelandse koppleings, is ook aangebring.

Besoek ons gerus by www.hamnet.co.za


OOS-RAND RADIOKLUB SE VLOOIMARK

Die Oos-Rand Radioklub se vlooimark is alweer om die draai. Dit sal plaasvind op 6 Oktober 2012 te Arrowe Park in Ebenezer straat in Benoni vanaf 12:00 tot 15:00. Bring die familie en vriende en kom geniet die dag saam met ons. Boereworsrolle en koeldrank sal te koop wees. Bring baie geld saam en maak seker jy verloor nie op enige spesiale pryse op items nie. Kontak Judy om ‘n tafel te bespreek. Sy kan geskakel word op 079 730 2030.


HET JY JOU LEDEGELD BETAAL?

Ledegeld vir die SARL was betaalbaar op 30 Junie 2012. As u nog nie hernu het nie, doen dit sonder versuim. As u nie seker is van die bedrag wat betaal moet word nie, bel Mariska by 011 675 2393 op Maandag. Die SARL het u ondersteuning nodig om 'n sterk stem vir amateurradio te verseker.


AMATEURRADIO BLY OP DIE VOORPUNT VAN DIE TEGNOLOGIE

Het jy geweet dat die Mars Science Laboratory (MSL) op 26 November 2011 om 15:02 UTC 'n Atlas V 541 gelanseer het vanaf die Cape Canaveral Ruimtelanseringskompleks 41. Dit dra die ‘Curiosity’, 'n 900 kg tuig so groot soos 'n klein motorkarretjie. Dit het by die rooi planeet aangeland na vlug van nege maande.

Net meer as 7 uur na die lansering om 21:45 UTC is die X-band telemetrie sein van die MSL ontvang deur die Bochum amateurradio-fasiliteit. Hierdie fasiliteit is herstel en word bestuur deur lede van AMSAT DL. Die sein. wat oor ‘n afstand van 112 000 km ontvang is, het 'n spin-modulasie van omtrent 3,5 Hz met 2 revolusies per minuut. Daar word geglo dat dit die eerste ontvangs van die MSL is buite die amptelike NASA Deep Space Network (DSN) en die USN sporingstasie op Dongara, Australië.

Die 20 m skottel op Bochum word ook gebruik deur AMSAT-DL om outomaties intydse solêre data te ontvang vanaf die NASA STEREO A / B satelliete. Die data word deur die internet oorgedra na 'n NOAA-bediener in die VSA.

Amateur radio bly steeds die mees opwindende van alle wetenskaplike stokperdjies.


JAMBOREE-OP-DIE-LUG EN CQ HOU KOERS

‘Scouts’ en ‘Guides’ neem op Saterdag 20 en Sondag 21 Oktober 2012 wêreldwyd deel aan die 55e Jamboree-op-die-lug en 16e Jamboree-op-die-Internet. Vanjaar se tema is "Hoe groot is jou wêreld?" JOTA is 'n jaarlikse gebeurtenis wat ‘Scouts’ en ‘Guides’ oor die hele wêreld met mekaar laat praat deur middel van amateurradio. ‘Hulle ervarings en idees word uitgeruil en gedeel oor die radio.

Die Voortrekkers in Suid-Afrika en Namibiė gaan deelneem aan CQ Hou Koers op Saterdag 20 Oktober. CQ Hou Koers is 'n jaarlikse geleentheid waar Voortrekkers die geleentheid kry om per amateurradio met ander Vories van regoor die land te gesels. Dit is terselfdertyd 'n geleentheid om vaardighede wat vereis word vir kentekens soos Radiospraak en Radio-amateur, te oefen en op te skerp. Dit gee jongmense blootstelling aan 'n baie interessante tegniese en wetenskaplike stokperdjie wat stimulerend kan wees ten opsigte van loopbaankeuses.

Skakel met ‘n plaaslike ‘Scout’-groep, ‘Guide’-groep en / of Voortrekkerkommando en begin met reëlings vir hierdie gebeurtenis. MOET HULLE ASSEBLIEF NIE na jou radiokamer nooi nie; 'n besoek aan die tandarts sal meer opwindend wees as dit Moet nie lui wees nie, kom uit die huis en neem jou radios op 'n uitstappie!


DOKTORSGRADE IN INGENIEURSWESE

Dit gebeur selde dat 'n pa en seun albei doktorsgrade in ingenieurswese in dieselfde week ontvang.

Dr Gary Immelman, ZS6YI, en sy seun Dr Quintin Immelman, ZS6IY, het in dieselfde week doktorsgrade in ingenieurswese ontvang, maar van verskillende universiteite.

Gary het 'n Doctoris Technologiae (Honoris Causa) Engineering and Technology ontvang van die Vaal University of Technology in Vanderbijlpark en Quintin het 'n Ph.D. Meganiese Ingenieurswese ontvang van Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Die gradeplegtighede is nie vir dieselfde week beplan nie, so 'n blote toeval het dit inderdaad ‘n merkwaardige week gemaak.

U mag onthou dat hierdie tyd verlede jaar was Gary besig om aan te sterk na 'n skietvoorval by sy woning op 25 Julie 2011. Hy het grootliks herstel behalwe vir pyn in sy regterarm en maag, maar dit het hom nie in die minste teruggehou nie.


NUWE LEDE

Gedurende die afgelope week het Andrew Baxter, G4SIU, ‘n nuwe lid van die SARL geword. Andrew het van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika verhuis en is tans besig om ‘n ZS-lisensie te bekom. Welkom aan Andrew G4SIU


KLUBNUUS

Die Pretoria Amateurradioklub se algemene jaarvergadering het op 2012-09-08 plaasgevind. Daar was ‘n baie goeie opkoms en heelwat toekennings en trofeë is uitgedeel. Die vorige jaar se voorsitter is herkies en heelparty nuwe komiteelede het bygekom. Die portefeuljes word op die eerste komiteevergadering toegewys.
Die komitee is soos volg:
Voorsitter Pierre Holzhausen ZS6PJH.
Ander verkose komiteelede is: Fritz Sutherland, ZS6SF; Jean de Villiers, ZS6ARA; Andre van Tonder, ZS6BRC; Johan de Bruyn, ZS6JDB; Graham Reid, ZR6GJR; Vincent Harrison, ZS6BTY; Craig Symington, ZS6RH; Rudi van Dyk, ZS6RVD; Pieter Fourie, ZS6CN en Richard Peer, ZS6UK. Almero du Pisan,i ZS6LDP, is gekoöpteer.


WEDSTRYDNUUS

SARL 80 m QSO-geselligheid. Die Oktoberbeen van hierdie gewilde wedstryd, aangebied deur die Durban ARK, word op Donderdagaand 4 Oktober gehou en dit begin om 17:00 UTC en eindig om 20:00 UTC (19:00 tot 22:00 SAT). Dit is slegs 'n foonkompetisie en vind plaas op die bandgedeeltes 3 603 tot 3 650 kHz en 3 700 tot 3 800 kHz. U roepsein, 'n RS.-seinverslag en u naam word uitgeruil.

Tien (10) punte word verdien vir elke kontak met 'n Suid-Afrikaanse stasie en vyftien (15) punte vir elke kontak met 'n stasie buite Suid-Afrika. U logstaat moet gestuur word aan die Durban ARK, Brownlee Place 17, Bluff, Durban, 4052 of u kan dit per e-pos stuur aan zs5lp@vodamail.co.za. Dit moet hulle teen 19 Oktober 2012 bereik.


VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hans, ZS6AKV, berig dat twee C-klas fakkels ontdek is. Geomagnetiese toestande is op rustige vlak. Plaaslike HF werkingsfrekwensies wissel van onstabiel tot ‘verhoog van maandelikse gemiddelde voorspelde waardes’. Probeer 10 en 15 meter, die voortplanting mag u verras.

Aktiewe gebied 1 582 het die potensiaal vir die M-klas opvlamming as gevolg van die groeiende magnetiese konfigurasie. Die vooruitsigte is dat die mees aktiewe gebiede sigbaar op die son, eenvoudige magnetiese konfigurasies het. Aktiewe gebiede 1 575, 1579 en 1 582 het die moontlikheid van geringe aktiwiteit. Daar word verwag dat opvlammings-aktiwiteit laag tot middelmatig sal wees oor die naweek. Besoek www.spaceweather.co.za vir die nuuste inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE
3 Oktober - Logstate vir die SARL 80 m klubkampioenskap ESB-kompetisie moet in wees na zs4bfn@netactive.co.za.
4 Oktober - SARL 80 m QSO-geselligheid. 17:00 UTC tot 20:00 UTC
05 Oktober - Nominasies vir MTN geborgde SAARDT-toekennings in te wees na saardt@intekom.co.za.
09 Oktober - Erfenisdagnaelloop se logstate moet in wees na riaanzs4pr@gmail.com en fwolff@global.co.za.
20 Oktober - Jamboree-op-die-lug en CQ Hou Koers.


Die SARL nooi u om te luister na Amateurradio Vandag, elke Sondag oggend om 10:00 SAT op 145.750 MHz in die Pretoria-omgewing, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir 'n web Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today ", gaan na die groen kolom en klik op 'LUISTER OP DIE WEB'. 'N Heruitsending vind op Maandae om 17:30 UTC op 3 230 kHz. Sentech borg die ARMI uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Martin Schwella, ZS4MS en geredigeer deur Fritz Sutherland ZS6SF

Dankie dat u geluister het, 73

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003